Thursday, 18 October 2007

KADAWER


Hi almal,

Ek het vir my nog 'n blog gaan maak op wordpress. Ek voel so bietjie alleen vandat almal daardie kant toe getrek het. Ek gaan die blog vir eers hou. Die posting is op altwee van my blogs vandag.

Ek wil julle vertel van die ‘kadawer’ Nou kyk, ek het helse vrees vir dooie goed. Veral dooie mense. Wil dit nie sien nie. Wil niks daarmee te doen hê nie. Wil nie eers dink aan dood nie.

Die storie begin so:

Ons ken nou al die afgelope 10 jaar die klein Mozambiekertjie. ‘n Regte kansvatter, maar hy stick around soos mens sal sê. En ons is maar altyd daar om die klits te help. Eendag kom hy en een van sy mede landsgenote by ons aan met ‘n versoek wat my maag laat bollemakiesie slaan het. Een van die swartes wat op die myn gewerk het is dood. En hulle kry nie iemand om die lyk Moz toe te karwei nie. Manlief koukus met my dat die biesies bewe. En ek begin toe ook sommer bewe. Wat ‘n aaklige gedagte. Om vir 1200km met ‘n lyk rond te ry!

Ek sien dit al. Dis warm in Moz. Dis somer hier. En al wat ek aan kan dink is - ‘wat as die lyk se sappe begin uitloop?’ Ek weet mos niks van sulke goed af nie. En toe moes ek uitvind die ou is al 3 weke gelede dood. Nog meer stres. En ek kon nie uitdraai nie, want manlief soek my saam. Wil nie alleen die ver pad aandurf nie.

Soek ‘n geskikte ‘trailor’. Moet toe wees - orals. Kry een en daar sit ons af na die lykshuis. Elke liewe bloedsel in my lyf bruis. Ek sit in die bakkie met my ogies styf toe, want ek wil niks sien nie. Nie eers die kis nie. Na wat vir my gevoel het soos 16 jaar laai hulle toe die kis in die waantjie en die bakkie gee so rukkie. En ek weet toe dat daar nie omkeer is nie. Ek vermy sommer die kantspieëltjies ook. Netnou loer daar iets vir my of dalk iets dergliker…

Ons vat die langpad. Ek gesels min. Bang sien. Drink skaars iets, want ek gaan moet uitklim om te pp. En dit gaan ‘n mission wees ek weet dit sommer. By die eerste stop vir diesel, laat my blaas my in die steek en ek moet uitklim. Klim uit daai bakkie facing forward all the time. Kyk nie eenmaal om nie. Loop soos stokmannetjie so vinnig as wat my lam bene my kan dra na die toilette. Nou moet ek moed bymekaar skraap om weer terug te loop. Ek dink by myself is daar nie iemand wat my kan kom haal hier halfpad tussen êrens en nêrens nie. Wie kan ek bel? En skielik besef ek dit raak warmer. Hoe vinniger ons die ou by sy bestemming kan kry, hoe minder ’sous’ gaan uitloop. En soos dapper stokmannetjie vind ek my pad terug na die bakkie - facing forward - kyk nie om nie. En my hartspiere werk oortyd.

Dis ‘n hengse ver ent om te knyp as mens eers in Mozambique is, en ons moet weer stop voor ons die grens oorsteek. Dieselfde ritueel vind plaas op Malelaan. Facing forward doen ek gou als wat ek moet. En ons laat waai grenspos toe. Aan SA kant gee ons al die nodige dokumente in en hulle gee ons die ‘go-ahead’ om deur te gaan. By die Moz kant word ons gestop. ‘n Baie windgat doane beampte kom gooi sy lyf rond by ons. Vra klomp bombastiese vra, so asof hy die minister is daar. En die volgende oomblik trek hy weg met ‘n speod na waar die trailor is en so in die loop vra hy wat is in die waentjie - so asof ons smokkel met iets. So twee tree van die waentjie af antwoord manlief hom ‘KADAWER’. Ek het werklik nog nooit gesien hoe plak iemand se skoene vas aan ‘n teerpad soos daardie dag nie. Die man het net soos ‘n soutpillaar vasgehak in sy spore en met een benoude gegil geskreeu ons moet ry!

Noodeloos om te sê, my hele bang wese het net daar uitgebars van die lag. Dit was snaaks. Dit was baie baie snaaks om te sien daar is iemand wat banger is as ek vir ‘n ‘KADAWER’ So was my spanning so klein bietjie gebreek. Daar is paar plekke op die pad in Moz waar hulle daarvan hou om mense af te trek. Sommer vir geen rede. Dan sal hulle fout soek, om sodoende een of ander ‘bribe’ te aanvaar. En so gebeur dit ook. Mannetjie spring voor ons in en trek ons af. Groot meneer word ‘n reeks vrae gevra, en dit kom toe nou by die waentjie. ‘Wat is in die waentjie??’ Begin ook toe sommer nader stap. Ek meen - as ons iets moes smokkel sou hulle ons mos op die grens gevang het. Het die man nie gedagte nie? Hy hou ons mos nou net op. En ek stres oor die ’sous’ Dis hel warm. En manlief sê ‘KADAWER’ O my aarde! Plak nog iemand se skoene solied vas in die pad. Grootoog gil hy ons moet ry! Weereens skater ons soos ons lag. Dit lyk darem vreeslik as hulle so vashaak.

Die res van die pad kry ons toe geen drama nie. Aangekom by die punt waar die kadawer se familie hom moet oorneem. Langs die hoofpad is die klein nedersetting of dorpie as mens dit regtig ‘n naam kan gee. Onder die een boom staan ‘n oopbak lorrietjie en wag. En daar is ‘n handjie vol mense wat ewe gewillig kom help om die lyk uit die waentjie te haal. Natuurlik knyp ek my ogies styf toe, want ek wil niks sien nie. Ons hoor toe by die klits wat natuurlik moes saam ry, dat die ou wat dood is net 1 familielid oor het, en dat dit die een ou man is wat daar rondstaan.

Dit was nogals hartseer. Om te dink jy begrawe jou laaste familielid, en net jy bly oor. Ek weet nie of was dit verligting of eerlike hartseer oor die arme ou wat oorbly nie, maar ek het toe paar trane geknip. Manlief het ook so traan of twee in sy ogies gekry. Die oomblik toe al die dankies gesê is laat spaander ons na ons blyplekkie om te gaan rus en oor te slaap, voordat ons weer vroeg die volgende oggend die langpad moet aandurf huis toe.

Die rit terug was vinnig. Ek kon ten minste nou om my rondkyk. En ja, die polisie/doane/spietkops/afpersers het ons paar keer afgetrek om te hoor wat smokkel ons. Magic woord ‘KADAWER’ Dis soos om die pause button te druk op ‘n movie. Geen probleme gehad nie en ons is tjoef tjaf deur die grens. Veilig by die huis aangekom en lag vandag nog oor die KADAWER storie. Maar dit was die eerste en ek hoop eerlik die laaste lyk wat ons moes rondry. Hoop hy RIP.

Liefde groete

Sonneblom

O ja, nuwe blog link: http://sonneblomseplekkie.wordpress.com sien julle daar :)

Monday, 15 October 2007

20 jaar later........




Hi julle,

Een van my ma se sêgoed is 'al vat 'n ding 20 jaar, maar dit sal uitkom'. En dan is daar die spreekwoordelike 'wiel wat draai, en soms slip hy 'n rat'. So het ek agtergekom in 'n dood onskuldige kuiertjie so paar jaar gelede, toe ons kindersondes sommer so in 'n gesprek terugkeer en ons lekker terugkry.

Ons was 3 kinders. Ek die oudste, my broer 2 jaar jonger as ek, en my sussie 5 jaar jonger as ek. My broer was nie 'n bakleierige seun nie, en die gevolg is dat die ander seuns dit raakgesien het en maklik op hom kon pik. Ek was daardie stadium in st3 en hy was is st1. Met lang kopkrappery en amper moedeloosheid bied een van my ouers se vriende aan dat my broer moet kom vir paar karate lesse by hom. Net om sy selfbeeld bietjie te 'boost'. Ek wou natuurlik nie hê boetie moet alleen gaan nie, ek wou ook karate leer. En so sluit ons toe aan.

Alles verloop voor die wind, en sommer baie vinnig kruip die sport in ons are. Full Contact. So ons mag maar raakslaan ens. En ons vorder goed. Leer baie vinnig om terug te baklei en al daai dinge. Boetie se persoonlikheid skerp sommer 1000% op, en die ander seuntjies sukkel toe nie meer so met hom nie. Van hulle raak pelle van hom. En die lewe is mooi.

Op die hoek van die straat waarin ons gebly het, besluit mense hulle gaan 'n huis bou. 'n Groot huis. En ons bekyk die storie met 'n fyn oog. Fondasies gegooi, en die mure begin opgaan. Nou in die verlede was 'n huis nie soos vandag in 2 weke klaar gebou nie. In die stadium van ons nuutgevonde sterkheid, het ons een klas gehad waarin ons geleer het om dakteëls stukkend te skop en te slaan. By die huis was daar niks waarop ons kon oefen nie, en ek en boetie besluit ons gaan kyk of ons die nuwe huis se mure kan omskop.

Met groot lekkerte skop ons toe ewe maklik die halwe mure om binne die huis. Volgende dag van die skool af, en klaar huiswerk gedoen, wag ons dat die bouers huis toe gaan, en gaan skop so ewe weer die mure wat hulle deur die dag oorgebou het weer om. En ons is te trots op ons self, want ons is mos nou sterk. So hou die gedoente aan vir amper 'n week lank. En met groot hartseer was iemand so gemeen om tydelike huisie daar te plaas waarin die bouers toe nou maar bly, sodoende die huis op te pas. En weg is ons oefenplek.

Vriende van ons kuier een aand by ons so paar jaar gelede. Ons sit en gesels sommer so oor kinder stoutighede wat ons as kids aangevang het, en ek vertel toe die straaltjie. Die vrou kyk my snaaks aan met diep gedagtes en vra toe is dit nie die huis op die hoek in daardie straat nie? JA!! dis die een, en ek lag nog so lekker, toe die my vertel dit was haar pa se huis...hehehe. Die arme man was kort van moedeloosheid ineenstorting. Dit hom glo baie geld gekos om sy huis klaar gebou te kry, want vandaliste het dit bly afbreek. Noodeloos om te sê hoe skaam ek gekry het. Ek is maar net vandag bly ons was nooit uitgevang nie, want ek WEET ons sou nie 'n vel op ons agterente gehad het nie.

So the moral of the story? Pasop as jy jou stout streke vir iemand vertel.....it may come back and bite you in the arse.......vertel bietjie van julle stoutgeite.


Lekker week vir almal.

Sonneblom

Terug flitse

This day in History