Wednesday, 29 August 2007

Die seerste seer


Julle hoef nie te lees nie, en julle hoef nie te comment nie, maar wat ek hier skryf vandag is persoonlik en seer.


Waar kry mens 'n selfbeeld as dit van jou gesteel is toe jy klein was? Toe hy jou moes laat veilig voel. Toe hy jou moes beskerm. En liefhê. Jou spesiaal laat voel. Wanneer tel mens die stukkies op en plak dit weer aanmekaar? En gaan dit help? Hoekom teister die ding my so baie.

Hoeveel keer het ek al begin skryf en moed opgegee. Dis te seer. Ek wil dit weghê!!! Wens ek kan 'n breinspoeling kry. Hoeveel fokken trane moet ek nog huil?

Ek was klein en tingerig. En bang vir jou. Jy het nooit met ons gesels nie. Was ons in jou pad? Hoekom was jy nie lief vir ons nie? Jy het altyd geblaf as een van ons met jou moes praat, want glo my nie een van ons het plesier daaruit gekry om met jou te praat nie. Ons het net as ons moes.

Onthou jy wanneer ons niggies en neefs kom kuier het? Jy sou hulle op jou skoot tel en met hulle gesels. Ons het maar eenkant gestaan en jou net aangekyk. Ons het nooit ondersteuning van jou af gekry nie, maar as ons iets bereik het wou jy altyd die eer kry daarvoor.

Maar dis nog okay, maar jy het my selfbeeld en selfvertroue gesteel. My minderwarig laat voel. Weet jy hoeveel keer wou ek selfmoord pleeg, maar danksy jou het ek nie eers genoeg guts gehad om dit deur te voer nie. Die mense met die dik brille se mens moet vergewe. Vergifnis gaan nie die seer wegvat nie. Gaan nie die woede wegvat nie. Gaan dit my skielik 'n ander mens maak, wat mooi uitkyke op die lewe gaan he? NEE.

So hoe kry ek dit wat jy van my gesteel het terug? Ek weet nie eers of ek jou haat nie. Want sien, die bybel se mens moet jou ouers eer!!!! Hoe moet ek dit doen? Wat anders voor moet ek dankbaar wees en jou eer? Vir die kos op die tafel? Die klere aan my gat? Daarvoor moes my ma haar afsloof. En vandag kan jy nie eers oordentlik na haar kyk nie. Op haar ouderdom moet sy mishandel word!!! Fisies en geestelik!!!

Kan jy onthou hoe jy my broer mishandel het? Dis vir my snaaks hoe jy gesit en huil het toe hy dood is. Hoekom? En hoekom kan my suster jou nie verdra nie? Ek wil weet wat het ons gedoen aan jou? Wat het ek gedoen om te kon verdien dat jy my lewe verwoes het!!

Ek het ander pa's gesien en begeer dat jy my ook so spesiaal kon laat voel soos hulle hul dogters laat voel het. Dit is onregverdig!!! Toe ek uiteindelik die guts gehad het om my ma te vertel, verby al die dreigemente van jy sal my doodmaak, toe ontken jy dit!!!!! Het jy dit al ooit erken teenoor iemand? Ek glo nie, ek dink jy is te lafhartig. Maar gelukkig is ek nie iemand wat stories aandra nie. Gelukkig het sy my geglo. En gelukkig het jy opgehou.

Die probleem is, ek soek my selfvertroue en my mense reg terug!!! Ek is moeg om in jou siek skaduwee te loop. En weet jy wat? Ek gaan nie wag tot jy dood is eendag nie. Ek vat dit nou terug!!!! Jy gaan nie langer bydra tot my hartseer en haat nie. Dit is MY selfbeeld, en as jy een soek, gaan kry jou eie!!! Gedane sake is gedaan, en ek kan nie die verlede verander nie, maar ek kan my toekoms terug vat. En van vandag af gaan ek nie meer toelaat dat dit my vernietig nie.

Ek huil nou my laaste trane. En nee, ek haat jou nie. Ek is lief vir jou, want jy is my pa. Jy sal moet rekeningskap gee vir jou dade. Ek het niks daarmee te doen nie. Dis verby.

Jou dogter.

7 comments:

Anonymous said...

Blommie,

Ek gou jou posting gelees. Ek wil van die ads in die ou koerante laat raam. Die koenante is broos en verweer, so ek sal moet sit en uitknip. Wil dit hier in die eetkamer ophang. Is die sentrale punt in die huis kan mens maar se.

En tussen ons gese - hier loop 'n omie rond in die huis. Maar rustig. Nog nooit gepla nie. Is groot huis so hier is plek vir ons almal...hehehehe.


Lekker daggie

Sonneblom

Anonymous said...

Ag ou Sonnie. Mooi gese al is dit hoe sad! Ek glo ek het my standpunt oor die 'tipiese' man al duidelik gestel so al wat ek se is sterkte voorentoe en mag jy genesing kry. Ek ondersteun jou.

Liefde
Gyps
xxxxx

suz said...

Sonneblom

Ek het vir iemand jou inskrywing gemail wat my baie na aan die hart lê en wil graag hê jy moet lees wat haar comment was.

LEES HIER ONDER

Sjoe, dit is hartverskeurend!!!! Maar as ‘n mens die brief klaar gelees het, kan jy nie anders as om respek vir haar te hê nie. Te midde van haar ellendige kinderdae, het sy in ’n pragtige, passievolle en uitstekende skryfster ontaard. Ek wonder of sy besef hoeveel hartseer, haat, moedeloosheid, minderwaardigheid, het sy in hierdie kort briefie vasgevang. Ek wens sy wil ’n boek skryf, sy het ’n gawe ontwikkel uit haar ellende. En daar is bitter min mense wat deur dieselfde trauma is wat dit kan sê. Haar pa..... wel, hy sal dalk nooit die voorreg hê om sy dogter te ken nie, maar ek weet dat die belangrikste Pa baie baie trots op haar moet wees.



Die moeilikste van herinneringe is om die slegtes te verban, en ek dink nie daar is ’n mens op hierdie aarde wat dit al ooit kon regkry nie. Al manier is om die liefde en aandag wat sy so desperaat van haar pa begeer het, om te sit in gee, nie vir hom nie, hy sal dit versmaai, maar daar is honderde mense wat net soos sy smag daarna, en ek kan haar waarborg, sy’t ’n wonderlike toekoms, want dit was verlore, en sy het dit gevind!!

Anonymous said...

Hi Suz,

Baie dankie vir die inskrywing. Wens ek het soveel vertroue in myself gehad. Maar ek het vandag 'n kombers gelig wat min van ons doen. En ek weet ek gaan sterker anderkant uitkom. Ek moet sien, want my 'sanity' hang daarvan af. En ek kan nie as hierdie hartseer verwytagtige mens bly voortbestaan nie. Ek het my eie kinders waarvoor ek tafelberg sal skuif om na om te sien.

Miskien eendag sal ek dalk daai boek aanpak. Dis nie 'n sprokies verhaal nie. Maar miskien kom daar meer vroue (en soms mans) uit hul doppe gekruip en besef die son skyn. Daar is niks om voor weg te kruip nie, en BESLIS NIKS OM VOOR SKAAM TE WEES NIE. Die skuld lê immers nie by ons nie nie.

En dit was die eerste stap na genesing.

Nou ja, more skryf ek hopelik oor iets interresants en vrolik. Die Sonneblom sien die somer aankom :):):)

Liefde groete

Sonneblom

Anonymous said...

Sonnie,

As ek jou kan troos dan wil ek dit nou hier doen. Die ou bliksem, hoe kon hy, hoe kon hy so wreed wees?

Voel jy my nabyheid...ek sit my arm om jou en druk jou styf vas...
My ou maatjie, ek sal jou ondersteun, na jou luister.
Praat dit uit, en word weer heel.
Leer net asb om weer te vertrou, almal is nie soos hy nie!
As jy iemand in die oe kyk en se, ek gee om vir jou, moet dit opreg wees.

Sulke dinge maak dat ek net wil fokken moor, maar niemand weet gewoonlik van die situasies nie.

Wat nou van jou mammie?
Hy kan haar mos nie so van haar menswees stroop nie?

Liefde

blommie

Anonymous said...

Sonneblompie,
Ons gesels al maaaaande, en mens sou nooit kon raai jy het so vreeslike geheim nie. Of nee, ek HET op 'n stadium gedink jy is depressed, maar het dit aan jou werk toegeskryf.
Dis vreeslik, vreeslik, vreeslik!En jy is braaf, ek hoop jy weet dit!
Ag, ou maatjie, dis 'n battle wat jy alleen moet fight, maar onthou tog, ek is hier as jy 'n knoppie nodig het om te druk. Regtig.

Liefde

Anonymous said...

Hi julle,

Baie dankie vir al die ondersteuning. Is goed om te weet daar is regte mense daar buite. Ek voel vandag amper soos 'n nuwe sixpence. Ek is net vrek mal besig vandag. Ek beloof om my sad storie af te haal, sodra ek 'n tydjie kry.

Kom nounet van die bank af. Toe ons die besigheid se rekening oopgemaak het, het die bank ons 'n brief gegee om die besigheid te bevestig, met 'n flippen verkeerde rekening op. Somehow het daar waaragtig 'n invoice deurgeslip en na maande se gesmeek gaan betaal die klient dit in daai rekening in. Wat 'n gemors. Maar ons glo dis nou uitgesorteer.

Sels later weer.

Sonneblom

Terug flitse

This day in History